Daar was ‘n tyd wat die vraag van hoe ons God moet aanbid gesien is as ‘n belangrike saak vir belydende Christene. Dit is steeds, maar vir ‘n ander rede. Terwyl ons voorvaders geworstel het met wat reg was, is die worsteling vandag oor wat individue van hou, of wat ruimte gee vir hul skynbare ‘talente’. Smaak en ruimte is die groot oorwegings, eerder as reg of verkeerd.
Wie Besluit?
Dit word dikwels goedsmoeds aanvaar dat opregtheid en miskien die afwesigheid van duidelik ketterende inhoud enige aanbidding aanvaarbaar maak. Aanvaarbaar, naamlik, vir ons en daarom, vermoedelik, vir God.
Hierdie benadering is geheel en al verkeerd. As dit God is wat deur ons aanbid moet word, behoort dit aan God om te besluit hoe daardie aanbidding moet geskied. Ons moet God erken as God voor ons selfs begin aanbid, deur ons te onderwerp aan wat Hy sê welgevallig vir Hom is.
God het aan Israel gesê: “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.” (Deuteronómium 12:32) Die Here Jesus berispe die Jode: “tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Markus 7:7)
Hoe?
By die binnekoms in ‘n erediens van ons kerk, mag ‘n besoeker sommige dinge effens ongewoon vind. Ons wil God aanbid op die wyse wat Hy ingestel het, en op geen ander wyse nie. Gevolglik, bestaan ons aanbidding normaalweg uit die lees en verkondiging van Godswoord, gebed en die sing van Psalms sonder instrumentale begeleiding. By geleëntheid, word ook die sakramente van doop en die nagmaal bedien. Ons vind geen Bybelse grond om verder as hierdie elemente van aanbidding te gaan nie.
Die skoonheid van aanbidding in die Nuwe Testament, in vergelyking met die Ou Testament, is in die eenvoud daarvan, en nie daarin dat dit minder verbonde is aan en beperk is tot wat God ingestel het in Sy eie Woord nie.
God se aanbiddingsvoorskrifte is ontwerp om Hom aan ons bekend te maak. Hy weet tog die beste, nie waar nie? Die Here Jesus sê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Johannes 4:24)