Die datum is 17 Februarie 1688 ( – die jaar van die grootste Hugenote aankoms by die Kaap van Goeie Hoop). Die plek is ‘Grassmarket’ in die Skotse hoofstad van Edinburg. ‘n Reuse skare mense is saamgedrom rondom die galg. Die galg word bestyg deur ‘n jong man van 26. Hy sing Psalm 103 en lees uit Openbaring 19 voor sy teregstelling. James Renwick is sy naam, die laaste van die Kovenanters om tereggestel te word gedurende die 25 jaar van vervolging voor godsdiensvryheid in Brittanje herstel is deur die Nederlandse Stadhouer Willem III van Oranje-Nassau (en sy weermag wat onder andere Britse, Nederlandse en Franse Hugenote regimente ingesluit het) in wat bekend staan as “Die Glorieryke Rewolusie”.
Die Kovenanters het daarby gestaan dat Jesus Christus Koning is oor alles en dat Hy as sodanig erken moet word deur beide kerk en staat. Tog het hulle geglo dat die kerk en die staat twee afsonderlike instellings was en dat die Britse koning geen reg gehad het om in te meng in kerkregering en aanbidding nie.
Hulle het die beginsels van die Nasionale Gelofte (of Kovenant) van Skotland van 1638 en die Plegtige Verbond en Gelofte (van Engeland, Skotland en Ierland) van 1643 gehandhaaf, en is daarom Kovenanters genoem. Hierdie beginsels was die direkte teenpool van die leerstelling van die ‘Goddelike reg van Konings’ waarop die Stuartkonings van Brittanje aangedring het, en die Kovenanters moes die prys van geloofsgetrouheid betaal. Meer as 18,000 Skotse Christene was of tereggestel, of verban, of het die uiterste verknellings gely eerder as om hul Christelike beginsels te verflou.
Die Kovenanters in Skotland en Ierland het later die naam ‘Gereformeerd Presbiteriaans’ aangeneem. Die eerste Gereformeerde Presbiteriaanse predikant om in Ierland bevestig te word was ds William Martin, oorspronklik van Ballyspallan, naby Limavady (vandag in die weste van die Britse provinsie van Noord-Ierland). Die bevestigingsdiens was in die opelug op 2 Julie 1757 by ‘n area wat vandag steeds bekend staan as ‘Die Gelofte’, op die pad tussen die Noord-Ierse dorpe van Ballymoney en Rasharkin.
Teen 1 Mei 1811 was dit moontlik vir die Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk van Ierland om hul eerste byeenkoms in sinode te hou. Een van die gemeentes by hierdie sinode was die Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk, Drummillar (naby Scarva in die suidelike gedeelte van die huidige Noord-Ierland).
‘n Entjie verder in die dorpie Loughbrickland was die kerkgebou (in 1817 voltooi) van ‘n gemeente van die ‘Oorspronklike Afgeskeie Kerk’ (wat in die tussentyd vanuit die hoofstroom Presbiteriaanse Kerk in Ierland tot stand gekom het). Hierdie gemeente in Loughbrickland het besluit om by die Kovenanters aan te sluit, en hierna het die Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk in Drummillar met die Loughbricklandgemeente verenig, waarna ds Samuel Sims in 1839 bevestig is as eerste Gereformeerde Presbiteriaanse predikant van Loughbrickland. Hy emiriteer in 1871 en met sy afsterwe is hy agter die kerkgebou (wat ons vandag steeds gebruik) op die heuwel in Loughbrickland begrawe.
Oor die jare hierna is die gemeente bedien deur ‘n aantal predikante – die huidige predikant, ds David Silversides, is in 1988 in die gemeente bevestig.