Die Bybel sê in Johannes 19:28-31: “Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was – sodat die Skrif vervul sou word – het Jesus gesê: Ek het dors! En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word.”
Ons het almal die bevrediging ervaar om die einde van iets te bereik en te kan sê: “dit is klaar”. Wat ookal dit is, dis gedoen, dis voltooi. Maar aan die kruis het die Here Jesus gesê: “Dit is volbring!” Wat het Hy bedoel? Was sy lewe op ‘n einde? Wel, ja, Hy was op die punt om te sterf. Maar dit het sekerlik meer beteken. Was Hy ‘n ontnugterde leier van ‘n godsdienstige beweging wat rampspoediglik verkeerd geloop het en het Hy dus bedoel, “dis die einde, dis klaar”? Nee, glad nie. Die Here Jesus was deurgaans daarvan bewus dat die kruis voor Hom lê. Hy was nie onkant gevang nie. Hy het geweet wie Hom sou verraai. Hy het geweet dat Hy aangekla sou word deur die owerpriesters en gekruisig sou word wanneer sy uur aangebreek het. Hy het ook geweet dat die boodskap van die kruis aan al die nasies verkondig sou word na sy opstanding uit die dood. Nee, nie Hy of sy saak was dood nie. Nee, nie Hy of sy saak was klaar nie. Maar iets was volbring – sy werk van die dra van die straf vir sonde was volbring. Hy sou alleen een maal ly ter versoening vir sonde. Daar kon geen herhaling of weer-offer wees nie. Die Bybel sê dat “… Christus … een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem” (Hebreërs 9:28). En daardie een maal het nou tot ‘n einde gekom. Hy het geweldig gely in sy liggaam, Hy het verskriklik gely in sy siel saam met die hartseer van verlate wees deur sy dissipels en die wrede verwyte van sy vyande. Bowenal, het Hy in sy siel die oordeel van God oor sonde gedra. Dit is waarom daar drie ure van duisternis was en Hy uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matthéüs 27:46) Ja, dit is volbring, Hy het die volle straf vir sonde opgeneem, ten spyte daarvan dat Hy geen sonde van sy eie gehad het wat gestraf hoef te word nie. Hy was “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Hebreërs 7:26). Maar Hy het opgetree as ‘n plaasvervanger. Ons weet almal wat ‘n plaasvervanger is. Wanneer ‘n beseerde voetbalspeler van die veld afgedra word, is die man wat sy plek inneem ‘n plaasvervanger. Die Here Jesus het die plek van ander ingeneem. Hy het die plek van sondaars ingeneem, hul skuld en straf gedra. Hy red almal wat op Hom alleen vertrou.
Voor u regtig op die Here Jesus kan vertrou en sondevergiffenis kan ontvang, moet u alle hoop op uself opgee. U moet aanvaar wat God oor u sê. Die Bybel sê “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Die Bybel sê “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.” (Romeine 3:10) En dit sê ook “die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Ja, ons verdien om hel toe te gaan, maar die Here Jesus kan ons red en ons bekwaam maak vir die hemel. U kan nie uself red nie. Geen mens kan nie, geen kerk kan nie, slegs die Here Jesus kan u sondes wegneem. Die Here Jesus nooi sondaars uit om Hom te soek, om na Hom te kom. Hy sê in Matthéüs 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”